Jumil 60 Plena kuilvoerkerwer: Dié kerwer is ’n kerfie bo die res

Maar die meeste veeboere is nie saaiboere nie. Veeplase het gewoonlik nie reuse trekkers nie en daarom moet kuilvoerproduksie so ver as moontlik by die boer se bestaande werktuie inpas om ’n ekonomiese opsie te bly. En dit wat die boer vir kuilvoerproduksie aankoop, moet so bekostigbaar, doeltreffend, betroubaar, en maklik om te gebruik wees as moontlik, sodat die veeboer nie met masjiene hoef te sukkel nie, maar steeds sy volle aandag aan die bestuur van sy diere kan wy.

Dis hoekom Fred Vermaak en Ewald van Rensburg Crop-Tech se JM 60 Plena-kuilvoerkerwer gekies het om kuilvoer vir hulle Hugenoot-kruisbeeste by Memel te maak. Dis ’n logiese, eenvoudige masjien wat stewig gebou is sodat dit duidelik is dat hy lank gaan hou, sê Fred.

 

Dis verspot maklik om met hom te werk en sy daaglikse onderhoud – ’n paar ghriesnippels en olievlak kontroleer – verg ’n skamele kwartier, as dit so lank is. Jy het geen spesiale gereedskap nodig om sy lemme te slyp nie en Fred het gevind dat vyf minute se slyp elke tweede dag vir hom heeltemal genoeg is om deurgaans ’n skoon snit te verseker. Om die snitlengte te verstel, is ewe maklik: twee boute en twee skroeftappe en siedaar!

 

Die Plena het ook nie ’n reusagtige trekker nodig om hom aan te dryf nie. Hy is gemaak vir modelle van 45 tot 67 kW. Fred was nogal bekommerd dat sy Fiat 980 van 69 kW nie die mas sou opkom met die kerwer en sleepwa van 15 kubieke meter (so 7 ton) wat aan die kerwer haak nie, maar alhoewel ’n mens kon hoor hy vat aan die trekker waar die mielies geil staan en die sleepwa vol raak, was die krag darem nooit te min nie.

Die kerwer se raam is ook stewig sodat jy met vertroue ’n swaar sleepwa kan aanhaak.

Die kuilvoerkerwer is die eerste produk van Crop-Tech wat Fred-hulle aangeskaf het, maar hulle is heeltemal tevrede met hulle transaksie. “Ons sal weer met Crop-Tech en hulle plaaslike handelaar, Reitz Same Trekkerdienste, sake doen,” sê Fred. “Die kerwer is in ’n krat hier afgelewer en Crop-Tech se tegniese slimkop, Johan Duvenhage, het hom hier aanmekaar kom sit en ons gewys hoe hy werk en hoe hy onderhou moet word. Francois Visser van Reitz Same Trekkerdienste het self ook kom seker maak dat ons tevrede is.”

Daar was ’n fabrieksfout met die kragaftakkeras en Reitz Same Trekkerdienste het dit summier en sonder om ’n sprak te sprook vervang. Dit dui op ’n bereidwilligheid om goeie diens te lewer, sê Fred. Verder het die kerwer sy werk fluks en voortreflik gedoen en geen probleme gegee nie. Soos die verf van die dryfkatrolle afgewerk het, het die dryfband ’n bietjie slapper geword en effens lawaai  maar dit was maklik om dit sommer self stywer te stel.

Die JM 60 Plena is ’n eenrykuilvoerkerwer, maar kan ook met ’n grasopteller toegerus word as jy graskuilvoer wil maak. Dis ’n gulsige kalant wat 20 tot 30 ton kuilvoer per uur maak.

Die kerwer het 12 messe, waarvan 6 verwyder kan word vir ’n langer snitlengte. Dit werk so: Met 12 messe kan jy hom verstel vir ’n snitlengte van 3, 5, 7, 8,5, 10 en 12 mm. Met 6 messe kan jy hom verstel vir ’n snitlengte van 6, 10, 14, 17, 20 en 24 mm. Te danke aan die voortreflike kuilvoer wat Fred met die JM 60 Plena-kuilvoerkerwer maak, kan sy Hugenootkruisings nou elke winter met vertroue tegemoet gaan.

 

Artikel deur ProAgri geskryf.

Contact Us

Telephone:

+27 56 817 7210
Email : This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

Featured Weblink