Mis maak geld met ’n Jumil strooier

Die hoofbesigheid van Suikerboschfontein naby Cullinan is eiers. Die 60 000 lêhenne op een van die Weldhagengroep se produksie-eenhede, sorg daagliks vir lekker gesonde, ronde eiers. Maar dit is nie al wat hulle doen nie; hulle mis ook.

Fanus Weldhagen vertel dat hulle vroeër net die mis verkoop het, maar later het hy besluit om self die bemestingskrag van die mis te benut. Hy het ’n kontrakteur gebruik om die mis vir hom op ’n naburige stuk grond te strooi waar hy gras plant om voer te maak.

Dit het soms maar sukkel-sukkel gegaan as die kontrakteur besig is met ander projekte en vanjaar het Fanus Nampo ingevaar met die idee om ’n misstrooier te soek wat hom kan help om oortollige mis weg te ry, grond te bemes, maar ook wat hom nie ’n arm en ’n been gaan kos en veral ’n nuwe, groter trekker nie.

Sy ou getroue Massey Ferguson moet die masjien kan sleep en aandryf en die misstrooier moet dus nie bykomende hidrouliese aandrywing nodig hê nie. By Hennie du Toit van Crop-Tech het hy presies die misstrooier raakgeloop wat hy nodig het: die Jumil 10500 TTD met sy dubbeltandemwiele wat 7,5 m³ mis kan dra.

Fanus sê wat hom veral beïndruk het is die breë sleepketting wat ook die “mispasta”, soos hy dit noem, kan hanteer. Hy sê: “Dit is niks vir ’n misstrooier om fyn droë mis of heel loperige mis te hanteer nie; die probleem is as die samestelling iets tussen-in is, soos ’n pasta. Dan word dit sommer gou vasgedruk en verstop alles.”

 

Met die Jumil-misstrooier het hulle in die twee maande wat hy elke tweede of derde dag so 10 tot 12 ton mis hanteer, nog nooit ’n probleem gehad nie. So werk die Jumil: ’n As van die trekker se kragaftakker af dryf ’n duursame, stewige ratkas aan. Die ratkas dryf die misstrooier se pensketting aan, wat die mis na die agterkant van die strooier begelei, waar die vloei deur ’n verstelbare skuifdeur beheer word. Die ratkas dryf ook deur ’n dryfband twee draaiskywe aan, waarop die mis val om met werpers uitgeslinger te word. Die werpers sorg dat daar ’n egalige baan van mis gelaat word.

Die tandemwiele help om die wa stabiel te hou oor ongelyke grond en die wiele is lekker breed sodat die wa nie die grond vasstrap of insak en vassit nie. Fanus sê: “Die mis moet uit die hokke verwyder word vir die hoenders se gesondheid, maar met behulp van die Jumil-misstrooier kan ek nou die mis gebruik om waarde tot die besigheid te voeg.”

Ander boere wat hoendermis vir bemesting soek, kan steeds by hom aanklop, maar vir eers gaan hy sy aangeplante weiding die beste geleentheid gee om geil te groei. “Ek kan nie wag vir die reën om te sien hoe die mis my gras gaan laat groei nie,” sê hy.

Benewens die 10500 TTD het Crop-Tech ook vir boere met kleiner behoeftes die Jumil Lider 50-50 TTD wat 3,4 m3 of 5 ton mis hou en die 2050 TTD met sy vermoë van 1,6 m3 of 3 500 kg. Fanus Weldhagen is baie gelukkig met sy Jumil-misstrooier wat presies aan sy boerderybehoeftes voldoen.

 

Geskryf deur:

Contact Us

Telephone:

+27 56 817 7210
Email : This email address is being protected from spambots. You need JavaScript enabled to view it.

Featured Weblink